Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Kwartet vir die einde van die tyd" deur HENNING PIETERSE
" Kwartet vir die einde van die tyd" deur HENNING PIETERSE [boodskap #82350] |
Sat, 16 August 2003 20:13 |
bouer
Boodskappe: 4795 Geregistreer: December 2003
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
H.J. Pieterse
Kwartet vir die einde van die tyd
I
Oorloë en gerugte van oorlog;
onsekerheid, middelmatigheid, vrees.
Om soos Popiel deur muise en miere
gevreet te word wag ook op mý vlees.
Jy verdwyn in mure en drome,
ek trek deure om my dig
en hoor net sirkels van slukkende gragte
hier buite. Geroeste skarniere
van tyd raak daagliks al meer wankelrig.
Dat aristokratiese koppe rol
in sulke tye, weet ons wel.
Tweede drome is die afsterf van herinnerings
aan my, aan jou, aan ons.
Te veel hande gryp, my valbrug is oor my keel.
Ek trek my terug in my kasteel.
II
In noordelike lande het ek kastele gesien
van marmer, graniet en klip.
Hier is alles termietkastele,
na die boonste deel van die kontinent gerig.
Aasvoëls, valke, giere, rawe
word deur my afgrond ingesluk.
Ek hoor hul krete oor my skanse hang,
donker teen die stropende wind van die aand.
Laatmiddae trek hadidas nog kakelend
verlate na neste in afgeleë heuwels.
Hier het ek jou vel en jou skedel gesoen.
(Geen nagtegaal hier wat begeleiding kon doen.)
Ek kyk af in 'n grag met swane
en dink hoeveel dieper weerkaatsings
as water is. 'n Visswiep
of draaktand verbreek die illusie.
Breek oop die kasteel na lewe ondergronds.
Daar is veraf trompette van buite my mure.
Eggo's moet ver en verder gehou word
saam met miere, mos en vretende ure.
Terug na opgegaarde skatte in my kamers:
skilderye, boeke, vrouens, musiek.
Soveel afleidings om my 'n lewe te verbeel;
ek trek my terug in my burg van fluweel.
III
Ek het deur talle nagte
waarin lig waterig terugkaats van agter
onbekende sterre, gekyk na 'n melkweg,
ruggraat van die nag, en geweet:
deur soveel lewens sal ek jou volg,
ek wat jou laaste liggaam geken het.
Hoe lank het dit jou geneem
om gewoond te raak aan my kasteel,
legendes oor vorige vrouens, asem
in mure wat uitruik en verwasem.
Jy is steeds hier, my vrou,
met warm, naderende donker in jou.
Hoe maklik breek die dinge, word alles breekbaar.
Deur kosmosblomme van die nag is al wat antwoord
gebuigde lig tussen planete en beperkte oë.
Jy het voluit geleef as jy die vermoë
het om altyd te kan onthou:
dít is die dag waarop jy gesterf het.
Die aarde breek uit sy baan, 'n vlieër
geswiep deur 'n dwarrelwind of komeet,
onbeheer deur water wat skepe verloor
bo en onder die grond.
Fondamente kraak en verdwyn, dakke
van ys skuif weer in oor ou vlakke.
Jy was reg: daar bly min oor vir ons hier.
Ek irek my terug in my burg van papier.
IV Liturgie van kristal
Elegie vir Marlene
As jy lank genoeg na mure kyk,
sien jy dalk 'n vonk, kristal of glas,
'n venster op dit wat is 'n dit wat was.
Voordat jy tussen sterre kan gaan lê,
is daar eers die mere van die slaap,
of dié van vrese, soos jy dit wil hê.
In jou langboot kyk jy nou na die noorde;
jou kop het altyd ooste toe gestaan.
Ek vou jou hande, sê die laaste woorde.
In Chinees kan 'n mens op honderd en dertig
maniere sê: jy het gesterf.
Jy verander in 'n kraanvoël en swerf
eenvoudig tussen planete,
wyer uitgedein as die vorige nag.
Jy vergeet van siektes en skete,
bedrieglik strelende vingers van water,
chemiese drome, sagte glip van 'n lem,
vertroostende staal teen jou lippe, later.
Jy vaar op die rug van 'n walvis
na 'n ander, geheime, suidelike land,
of staan in 'n wit boot, sterrekaart in jou hand.
('n Ligte boot van asem dryf
te vinnig na 'n eiland in die lug,
gestuur deur die loodsman van jou lyf.)
Teen hierdie tyd is al wat ons weet:
liefhê is te kort, dit duur soveel langer
om besonderhede te kan vergeet.
Ek het 'n hadida rustig sien klim
na verskuilde sterre agter die blou
van wolke in 'n westelike glim.
Voor die son wegraak, sak dit skielik vinnig.
Voorlopig dan, dié laaste reëls vir jou,
sagte een, met ons stigmata van liefhê, my vrou.
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Sun Dec 22 09:22:56 UTC 2024
|